Susters
Vandag gaan loer ons weer ‘n slag in by Annalie waar sy in Wildernis Hoogte se informele nedersetting gewerk het. In hierdie gemeenskappie bo op ‘n berg waar daar geen winkels of skole is nie, het sy vir sewe jaar ‘n liefdesdiens gelewer. In die 111 huisies woon daar omtrent 350 mense. Elke vyf huisies deel ‘n “bucket system” toilet wat twee maal ‘n week skoongemaak word, verduidelik sy verder. Geweld en hopeloosheid was aan die orde van die dag, asook hongersnood en dwelms. Daar was ook baie verkragtings, maar wanneer ‘n plaaslike gemeente so ag jaar gelede ‘n kerkie daar plant, begin dinge verander. Dit moet mos wanneer ons die liefde van Jesus in woord en daad begin verkondig, is dit nie?
Hulle begin eerste ‘n kombuis waar hulle vir 60 kinders kos gee. Daarna ‘n JOY Shop waar die plaaslike inwoners kan kom klere koop met die punte wat hulle verdien as hulle aan ‘n herwinningsprojek deelneem. So bly almal en alles skoon. Daar is geen mediese fasiliteite nie en wanneer iemand siek word, moet hulle die hele bult af stap, ‘n taxi kry en George toe ry. Daar moet hulle ‘n tweede taxi betaal om by die hospitaal te kom.
Annalie getuig altyd dat sy meer van haarself en van God in daardie tyd geleer het as op enige ander plek of tyd in haar lewe. Van die mooiste stories en mees amazingste mense wat sy daar ontmoet, is twee susters — Tant Rosie en Tant Sussie.
Tant Rosie het in die gemeenskap gebly, en iemand se huis skoongemaak totdat sy kanker gekry het. Sy het vir ‘n lang ruk gely en die vlieë het so op haar gesit voor Annalie daarvan te hore kom. Hulle het dadelik vir haar ‘n waaier en ‘n net gekoop en daarna het dit makliker begin gaan. Wanneer die hospitaal vir haar niks meer kan doen nie, stuur hulle haar huis toe met morfienstroop in ‘n 1-liter bottel.
Annalie moes elke dag haar dosis vir haar afmeet en vat, want hulle kon dit nie waag om dit by Tant Rosie te los nie. As die tikseuns dit sou uivind, kon hulle dit steel en maklik ‘n oordosis neem. So steek Annalie en span die bottel in haar kantoor weg waar hulle die kos hou, agter die Oros bottels waar niemand sou soek nie.
Tant Rosie was hierdie ongelooflike brawe vrou. Annalie vertel hoe sy elke dag by haar gaan sit en haar hand vasgehou het terwyl sy vir haar die Bybel lees. Elke dag het sy haar gevra; “Waarvoor kan ek vir Tant Rosie bid?”
Dan het sy altyd gesê; “Nee my kind, laat ek vir jou bid, want jy bly agter.”
Sy was ‘n sterk sterk vrou wat haar God geken het, getuig Annalie.
Haar suster se naam was Tant Sussie – ‘n verkorting van Susanna. Tant Sussie het ‘n beroerte gehad en was self ‘n besondere mens. Annalie ontmoet haar toe sy reeds aangetas is deur die beroerte en sonder enige versorging baie swaar gekry het. Hulle het vir haar ‘n rolstoel gekry, haar bed gewas en uiteindelik besluit om die huisies waarin die twee sussies gebly het, oor te bou.
‘n Span Amerikaanse gemeentes het kom help. In die middel van die uitreik, een oggend 3 uur, maak die Here vir Annalie wakker en sê vir haar hulle moet die dag room op al die vroue wat daar woon se hande sit en vir hulle bid.
Aanvanklik het hulle program heeltemal anders gelyk, maar die oggend toe hulle saambid, vra die leier van die Amerikaanse span of Annalie ‘n boodskap van die Here gekry het. Annalie vertel hulle toe van die ervaring wat sy drie uur die nag gehad het. Wanneer die bouspan van George, wat reeds op pad was, by hulle aansluit en ook daarvan te hore kom, besluit almal eenparig om die progam aan te pas en die bouspan draai om en gaan terug.
Die span studente het saam met Annalie in die kamp inbeweeg – die jong manne met hulle kitare en die dames met room wat hulle gou gaan koop het vir die vroue se hande. Annalie vertel hoe die vroue gehuil het en hoe baie hulle harte vir die Here gegee het onder hierdie liefdevolle aanraking en gebed. Talle het vrygekom en baie is genees van diep seer daardie dag. Hulle het ook by Tant Sussie gestop waar sy het oopmond gesit en huil het terwyl hulle haar bedien.
Haar deurbraak was besonders, want na die tyd kon hulle weer vir haar leer praat. Sy het graag hierdie een sin wat Annalie haar geleer het, vlot maar stadig gesê; “God is lief vir Ant Sussie.” Dit het sy daagliks herhaal wanneer Annalie gaan inloer. Binne ‘n enkele maand het sy nog ‘n beroerte gehad en toe is sy oorlede. Annalie het een keer vir Ant Sussie opgeneem op haar foon en kon dit by haar begrafnis speel met hierdie boodskap:
Moenie dat jy so ver verdwaal dat God jou op hierdie manier tot stilstand moet ruk nie, net sodat jy kan besef HOE LIEF HY JOU HET NIE.







