Suna Potgieter woon in Heidelberg, Wes-Kaap saam met haar man, Werner. Haar passie in die lewe is om ‘n omgewing vir haar medemense te skep waar hulle veilig en gemaklik voel om hulself te wees. Sy hou daarvan om te verstaan hoe mense en dinge werk, om te sien wanneer legkaartstukkies van menselewens in mekaar pas en hoe dit deel vorm van God se groter plan. Van 8-5 is sy ’n mediesefonds-adviseur, maar buite daardie ure ’n obsessiewe leser, amateurskrywer en wannabe-fotograaf.

 Op haar blog, Enroute-stories, pak sy storiestapels soos merkers langs haar lewenspad met die Here, as tekens van Sy goedheid, ingrypings, antwoorde en daarwees.

 TE MIN IS DALK MEER AS GENOEG!

 Selde sal dit voel asof dit ’n seën is om te min te hê. Wanneer ek egter terugkyk op my lewe, sien ek so baie kere waar dit uiteindelik tot ons voordeel en seën was om nie genoeg te hê van wat ons TOE gedink het nodig was nie.

 Kom ek verduidelik: met ons trek George toe in 2014 kon ons nie sommer vinnig ’n geskikte huis kry om te huur nie. Dit veroorsaak dat ons vir vier maande in ’n klein beknopte tweeslaapkamerwoonstelletjie naby Victoriabaai woon terwyl ons voortsoek na die regte, bekostigbare huis. Met twee tienerdogters wat al jare lank gewoond is aan elkeen haar eie kamer hê, is dit allermins ideaal. Ons moes maar verlief neem dat te min spasie en privaatheid deel sou wees van hierdie opset. Wat ek egter nie toe geweet het nie, was dat dit PRESIES was wat ons nodig gehad het! Na die groot omwenteling in my dogters se lewens, ons wortels uittrek en verplant, was hier nie spasie dat elkeen agter sy eie toe deur kon gaan lê en tob of haarself jammer kry nie. Dit het veroorsaak dat ons as gesin SAAM die aanpassings, hartseer en gemis kon hanteer en niemand kon wegsteek as hy of sy ’n moeilike dag gehad het nie. Vandag kyk ek terug na daardie vier maande as ’n baie spesiale tyd waarin ons gesinsbande en -verhoudings versterk is en gegroei het.

 In dieselfde tyd was ek ook gefrustreerd oor die min geleenthede wat daar vir my was om nuwe mense te leer ken en vriendskappe te smee. Elke poging aan my kant om by die skool of kerk betrokke te raak het op niks uitgeloop nie. Weer eens het ek eers later besef dat dit my juis gehelp het om weer die Here my hoofvertroueling te maak.

 Ek het begin terugkyk na ander kere in ons lewe waar ons te min gehad het en watter seën dit eintlik gebring het.

 Dwarsdeur ons kinders se skooljare het ons dit meestal nie finansieel breed gehad nie. Ons moes gereeld NEE sê vir goed wat vir die dogters se maatjies alledaags en vanselfsprekend was. Wanneer almal hempies vir hul gunstelingsportspan kon aantrek, het Pappa maar wit t-hemde omgetower in ’n Sharks-ondersteunerhemp. Skooltake moes aangepak word met dít wat in die huis beskikbaar was; daar kon nie spesiaal allerhande tierlantyntjies gekoop word nie. Dit het ook die dogters geleer om kreatief te wees en waardering te hê vir dit wat hulle wel het. Soms het hulle met groot verlangende oë na maatjie se nuutste “brand”-geskenke en “in”-speelgoed gekyk, maar vandag kan hulle met baie minder regkom en planne maak met wat hulle het.

 Vakansies was maar yl gesaai – miskien so elke drie jaar, en dan ook meestal by ouma Seekat-hulle op Sedgefield. Ek onthou dae van sente omdraai, nee sê vir eksotiese aktiwiteite en die bankbalans dophou sodat ons darem nog die terugtog huis toe kan bekostig. Maar die dogters onthou visvang saam met hulle pa, meerminne van sand en seegras, draai-roomysse en ure se speel op die strand. Kortom, hulle onthou wonderlike vakansies en hulle onthou ELKEEN met vreugde.

 Een van die voordele van “te min” hê, is dat dit jou begrip gee vir ander mense se sukkel. Ek onthou verskeie gesinne wat in hul tye van swaarkry gereeld saam met ons gekuier het. Ons het almal verstaan dat ’n “bring-en-braai” kon bestaan uit goedkoop wors en broodjies (enige vleis was ’n luukse) en dat die een wat vandag nie vleis kan bekostig nie weer vorentoe ’n beurt sou kry om die ander uit te help. Daar was die seën van mekaar ondersteun, geen pretensies of voorgee dat alles OK is nie, maar ook die wete dat jy nie alleen is nie.

 Tye van “te min” hê, het my geleer om te onthou dat iets wat vandag volgens my “goedkoop” is (soos R10 betaal om gewone klere skool toe te dra) vir iemand anders die verskil tussen kos op die tafel of honger gaan slaap kan wees. Ek sal nooit vergeet hoe ’n vrou eendag neerhalend in geselskap gepraat het van mense met uitgewaste vadoeke nie, “want hoe moeilik is dit nou om ’n nuwe een by Pep te koop?” Ek het net die vorige dag self na vadoeke gekyk en besluit om maar eerder ’n pakkie pasta vir dieselfde bedrag te koop.

 Ek hoop dat ek altyd sal onthou hoe dit voel om te moet kies tussen twee noodsaaklike goed en daarom versigtig sal wees met my opmerkings en oordeel wanneer ek net ’n gedeelte van ’n ander persoon se situasie of storie ken. As ek dit kan doen, sal elke vorige oomblik van te min hê vir my en ander mense tot seën wees.

 Ek moet onthou dat die Here die groter prentjie sien en ken – Hy weet watter omgee en vaardighede ek juis net kan leer as ek “te min” het. En dat wat ek dink te min is, heel moontlik MEER AS GENOEG is vir wat Hy in my lewe wil bereik!