Wilmie is sedert 2006 met Bernard getroud en is ‘n tuisskool mamma van twee in die skilderagtige dorpie George aan die Suidkus van Suid-Afrika. Sy het ses jaar gelede kennis gemaak met die materiaal van Revive Our Hearts en sedert daardie dag is dit haar grootste vreugde om met ander te deel hoe God haar hart verander het deur die Woord en dissipelskap oor Bybelse vrouwees en herlewing. Haar passie is om groepe vroue, jonk en oud, in haar huis bymekaar te maak en oor God se verlossende krag en die belangrikheid van dissipelskap onder vroue te deel. Sy geniet ook koffie, fotografie, joernaal skryf, musiek in al sy vorme, en die strewe om ‘n lewegewende tuiste vir familie en vriende te skep. Vandag gesels sy met ons oor…

VASBYT

 ‘Sus, dit maak nie saak hoe jy ‘n ding begin nie. Dit maak saak hoe jy dit eindig!’

 In meeste dogtertjies se oë is haar pappa die slimste en sterkste en mooiste man wat sy nog ooit gesien het. In my geval het daar egter nóg ‘n beskrywing uitgestaan: soldaat. My pappa het sy 2 jaar diensplig begin toe ek 9 maande oud is en my eerste werklike herinneringe van hom bly steeds die aantreklike, lang donkerkop man in sy bruin ‘army’ klere en swart ‘beret’. Hy het nooit in ‘n oorlog geveg nie en sy betrokkenheid in die weermag is ‘n mooi herinnering, maar ek onthou dit ook as die plek waar hy geblom het. Want vir hierdie man het die strawwe pas en streng dissipline soos tweede natuur gekom. Ek glo in ‘n ander era sou hy ‘n Generaal kon wees wat met duisende soldate onder sy gesag lande verower.

 Aan die einde van maande se opleiding lê die laaste groot toets voor as die troepe ‘n 72 uur Vasbyt moet voltooi. Sy Vasbyt het in ‘n tipies ysige winter in die Kimberley distrik plaasgevind. Hulle word as groep afgelaai op ‘n onbekende punt en het dan 72 uur om hulle pad terug te vind tot by die basis. Geen kos, geen slaap en net die heel nodigste op hulle rûe. Langs die pad is hulle natuurlik tempteer met gebraaide varkworsies en sappige spanspek. Die doel is egter om hierdie vasbyt klaar te maak. Soos ek die oorvertelling onthou het my pa regtig goed gevorder. Hy sou self van die eerstes kon wees wat oor die eindstreep hardloop. Hy was ‘n sterk sportman en nog meer vasberade om die doel so vinnig moontlik te bereik. Sy beste vriend het egter met sy knieë gesukkel en op ‘n stadium het die afstand, die moegheid en die swaar dra die kans om hierdie wedloop te voltooi so byna by oom Hennie kom steel. Hulle het egter as ‘n span deur hierdie opleiding gegaan en my pa het teruggeval om seker te maak dat sy vriend, nader as ‘n broer, óók binne die 72 uur sy eindbestemming bereik. Hier hardloop hulle saam oor die eindstreep by die juigende skare verby. Vasbyt. Tot die bitter einde.

 Uithouvermoë, soos beskryf in die Bybel, word uit die oorspronklike teks vertaal ‘as to remain under the weight.’ Sally Clarkson getuig “it was the grace of endurance, to remain under, that caused us, eventually to see the beautiful work God was doing in all of our lives. One day, one step at a time …”

 Dwarsdeur my pa se lewe het hy hierdie beginsel toegepas. Hy het allermins die maklikste paaie geloop – soms noodgedwonge en soms uit eie keuse. MAAR sy fokus bly altyd stip op die eindstreep. Die aangrypende woorde van Paulus aan Timoteus wat lees ‘Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus. ‘n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie. ‘n Atleet wat aan ‘n wedstryd deelneem, kan die prys wen slegs as hy volgens die reëls meeding.’ Ek het in my pa se lewe hier op aarde al heelwat van die Bybelse beginsels raakgesien. As hy die opdrag gekry (of geskep) het, het hy tonnel visie tot die bitter einde. Fokus op dit wat jy doen. Vertrou vir planne. Elke dag se uitdaging het ‘n oplossing. Tans is Suid-Afrika ‘n oorlogsveld vir sakemanne. Krag- en wateronderbrekings, swak paaie, swaar reën, kliënte wat betalings mis. Die perfekte storm vir God om Sy Almag te wys – selfs teenoor die klein of ongelowiges. Sy voorsiening. Dit kos steeds dat Sy kinders elke oggend opstaan en gaan werk. En dit is hierdie hardkoppige deursettingsvermoë wat my pa deur ‘n dag kry. Elke dag begin met ‘n krisis, maar dit eindig met hom wat geveg het tot die einde en oor die eindstreep van nóg dag gehardloop het.

 Die woorde uit Hebreërs kom weer op: Terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus … RIG DIE SLAP HANDE EN DIE VERLAMDE KNIEË WEER OP.

 Net soos my pa teruggeval het en langs sy vriend gebly het, het ons ook die versekering dat ons nie alleen hierdie stryd voltooi nie. Ons het die Heilige Gees. Ons het die Vertrooster en die Aanmoediger, die Een wat ons krag gee. Die Leidsman. In ons en deur ons is dit in Sy krag alleen wat ons, ons Vasbyt aan dié kant van die Hemel voltooi. Saam, oor die wenstreep.