Ina van Vuuren en Klaas woon in ’n klein dorpie, Fochville, in Gauteng. Sy is ma van drie jong manne en het 6 lieflike kleinkinders. Sy staan aan die hoof van Pure Pomegranate, ’n bediening wat gelowiges help om vrug te dra in God se Koninkryk. Sy het al meer as twintig boeke die lig laat sien en bedien oral oor die land, maar sy is veral lief vir Namakwaland. Ina is ’n prentjie mens en dit kom duidelik uit in haar bediening, waar God soms baie interessante voorwerpe gebruik om vir haar ’n geestelike beginsel te leer. Vandag deel sy met ons ’n kosbare les wat sy noem –

 VERVLEGTE WAARHEDE

 In ‘n tyd wat my wêreld uitmekaar geval het, lees ek eendag iewers hierdie sinnetjie raak: MOENIE KYK NA WAT JY SIEN NIE, KYK NA WAT JY GLO. Ek het dit groot op ‘n plakkaat geskryf en op my kas geplak sodat ek dit elke dag kon sien. Telkens het Abba my dan ook in die oggend wakker gemaak en dan moes ek vir Hom sê wat ek glo. Ek moes dus verwoord wat ek weet van Hom, ek moes Sy beloftes hardop vir myself herhaal en sodoende het my yskoue hart warmer geword, my geloof in Wie Hy is het gegroei. Hy het my in hierdie slegte tyd geleer om my oë weg te skeur van dit wat ek in die fisiese sien en dit vas te plak op Wie Hy is, op wat Hy sê – om Sy woord my riglyn te maak. Ek sou ook gereeld in my gees ‘n waarskuwing hoor as my brein gekies het om agter die lelike feite aan te hol. Tot vandag toe nog beleef ek soms dat Hy vir my die vraag vra: Wat glo jy, Ina?

 Jare later luister ek na Graham Cooke, ‘n Amerikaanse prediker. ‘n Sinnetjie uit sy mond, sluit aan by dít wat al jare in my hart vasgeplak is. Hierdie sinnetjie is kort maar die krag en openbaring wat daarin opgesluit lê het al vir my, en elkeen aan wie ek dit oordra, deur diep waters gedra. GOD ALLOWS IN HIS WISDOM WHAT HE EASILY COULD HAVE PREVENTED IN HIS STRENGTH.

 Ek hoef nie op my eie krag staat te maak om staande te bly nie, al wat ek moet weet is dat Hy is Wie Hy sê Hy is. Al wat ek moet weet is dat ons Koning die groter prentjie sien en dat Hy in beheer is. Dan kan ek rus in die wete dat Hy dinge vir my ten goede sal laat meewerk, kan ek juig in my nogtans-dae. Kan ek weet – wat ookal na my kant toe kom ‘n boodskap dra van: Wees gerus, Ek het jou in My hart en in My hand.

 Hebreërs 10:23 sê: Hy is getrou. Geliefde, wéét met jou wese! Dít is die Waarheid! Daarop kan jy staan, daarop kan jy staatmaak! Haal jou oë af van wat jy om jou sien, vestig dit op Hom wat in Sy wysheid dinge toelaat en alles ten goede laat meewerk vir ons wat hom liefhet, want saamgevleg vorm hierdie twee begrippe ‘n kosbare geloofsmantel!