Wat is Jou Storie voorgelees deur Suria Scholtz
Athane Scholtz is ‘n joernalis, redakteur en media- en kommunikasiespesialis wat saam met haar kinders Emma (18) and Nathan (15) in George woon. In Julie 2021 het sy haar man, Desmond aan Covid-19 verloor. Emma was in die middel van haar matriekjaar en Nathan in graad 8. Na jare by die George Munisipaliteit as Kommunikasiebeampte bedryf Athane nou haar eie media en kommunikasie-konsultasie en opleidingsbesigheid. Wat ‘n absolute voorreg dat ons vandag mag deel wees van haar wyer wêreld en groter roeping. Vandag vra Athane ons …
WAT IS JOU STORIE?
As iemand jou uit die bloute vra, ‘Wat is jou storie?’, wat sal jy sê?
Sal jy chronologies antwoord en begin by jou geboorte, vertel waar jy grootgeword het?
Sal jy jouself definiëer volgens jou beroep, jou kwalifikasies en prestasies?
Of sal jy jou antwoord aanpas afhangende van wie jou vra?
En het jy ‘n God-storie? Is dit vír Hom of téén Hom?
Hoe hoog op in jou storie sal God sy verskyning in jou onvoorbereide storie maak?
Jare terug het ek geleer om ‘n God-storie aanmekaar te slaan sodat ek ander mense na Jesus toe kon lei. Daar moes ‘n voor-Christus sonde-storie wees, hoe ek Jesus ontmoet het, en hoe Hy my lewe daarna verander het.
Maar ek was nege jaar oud toe ek Jesus as my Verlosser aangeneem het. Die mees ingrypende verandering in my lewe op daardie tyd was dat my ma ons Liewe Heksie-langspeelplate opgesny het en die grootmense ophou wyn drink het.
Vroeg in my twintigs, toe ek vir die eerste keer as koerantjoernalis in die onbeskermde regtige wêreld my Christenskap moes uitleef, het ek gewonder hoe relevant my getuienis kon wees vir die mense met wie ek in aanraking sou kom? Watter tipe geloofwaardigheid kon ek oordra aan mense vir wie dinge sleg gegaan het toe my eie lewe meestal glad verloop het?
Die Heilige Gees het my herinner dat my getuienis juis was dat God sy beloftes van ‘n voorspoedige lewe vervul het omdat ek gehoorsaam was en my ouers my in sy weë grootgemaak het.
Maar, soos vir baie langtyd-Christene, is my regtige storie dat God getrou was toe ek nie getrou was nie.
Toe ek in my middel-twintigs ‘uitgehaak’ het, het Hy my beskerm ten spyte van my dom foute en slegte besluite. Die lesse het my minder veroordelend teenoor ander gemaak en vir my diep empatie, genade en deernis vir mense gegee.
Hy het die mislukking en skande van ‘n toksiese verhouding gebruik om my die waarde van my uiteindelike trouman te herken en te waardeer.
God was getrou toe die chaos van gesinslewe, veeleisende werksomstandighede en siekte in die familie my ingetrek het en daar dae verby gegaan het sonder dat ek gebid of aan Hom gedink het.
Hy was getrou toe ek sy Woord begin vergeet het, my taalgebruik verswak het en die vrugte van die Gees nie vreeslik duidelik in my lewe was nie.
Ek het weereens besef ‘n halfpad, louwarm, grys God-storie gaan niemand baat nie. Vir die halwe tree wat ek toe in Sy rigting geneem het, het Hy die res van die gaping tussen ons in ‘n oomblik uitgewis.
In die afgelope twee jaar het ek meer tyd as ooit te vore in God se Woord spandeer, groot moeite gedoen om my met soliede Christene te omring, om by ‘n kerk betrokke te wees en in ander mense te belê. En toe die grootste storm van my lewe in 2021 oor my kop uitgebars het, was daar vrede wat alle verstand te bowe gegaan het.
My menswees-storie en my God-storie is deesdae meer dieselfde storie, en uiteindelik is my eerste instink om te bid voor ek dink. En dis alles God. Absoluut niks is in my eie krag of enigsins in my beheer nie. Dis ter selfde tyd oneindig angswekkend en diep rusbarend dat selfs my keuse om naby Hom te wees ten volle in sy Hande rus.
So, wat ís jou storie?
Jy besluit.
God is in elk geval daar om die fokus van jou storie te wees, maar sy genade lê in die vryheid wat Hy jou gee om Hom te kies.
Dit maak nie saak dat jy nie nou op ‘n goeie plek in jou lewe is nie, Hy sal jou net so vat. Dit maak ook nie saak as dit regtig goed gaan met jou en jy dink dat jy Hom nie nodig het nie, jy het.
Moenie wag tot jy sy genade kan verdien of sy diepte kan verstaan nie. Jy gaan dit nooit op jou eie kan doen nie.
So, gee net oor.
God sal die res doen.







